Afrigter wat sy eie skrummie ’n blouoog gegee het.

1 Aug 2020 by Hennie Van Vuuren

Rakker het nou al twee drieë gedruk en hy weier steeds om die bal uit te gee. En daar trek hy alweer, op pad vir sy driekuns . . . maar wag ’n bietjie, daar tackle sy eie spanmaat hom!

Blikkies Groenewald word deur baie huidige afrigters as ’n mentor beskou.

En die spanmaat se naam is Johannes (beter bekend as Blikkies) Groenewald, deesdae 68 jaar oud en een van die mees ervare rugbyafrigters in die land.

“Dit het in ’n wedstryd gebeur toe ek vir die Pedagoë op Mariepskop gespeel het,” onthou Groenewald hierdie week.

“Daar het ’n jong senter saamgespeel. Rakker was sy naam. Lewendig en hy het al twee drieë gedruk toe kry hy weer die bal en ek sê pass vir my, maar hy gooi ’n dummy en daar trek hy. Ek bly by hom en ek vra vir die bal, maar hy gooi net weer ’n dummy. “Ek sien toe die bliksem gaan nie pass nie, toe tackle ek hom!”

Groenewald sê sy spanmaats was almal baie kwaad en dit voel toe vir hom of hy “die grootste sonde nog gepleeg het” en die skeidsregter raas boonop ook met hom.

Nie dat dit iets vreemds was dat skeidsregters hom uitgetrap het in sy speeldae nie.

Daar was die ander keer toe hy vir Pretoria teen Onderwyserskollege gespeel het en die skeidsregter hom koelkas toe stuur vir ’n laat duikslag.

Volgens Blikkies Groenewald sing vandag se rugbyspelers hopeloos te min.

Daai tyd moes jy nog 10 minute agter die pale staan en Gerrit Fourie (Onderwyserskollege se losskakel) skop toe die bal en dit rol tot naby Groenewald waar hy hoogs gefrustreerd rondstaan.

“Ek dog de hel hiermee, ek gryp die bal en begin ’n teenaanval en ons eindig naby hulle kwartlyn. Ek lê onder in die losskrum en toe ek opstaan, vra die ref vir my moet jy nie in die koelkas wees nie?” vertel Groenewald.

Behalwe dat hy soms sy eie spanmaats geduik het, het Groenewald ook sy stelskoppers se vernuf deeglik getoets.

Pretoria se losskakel (Groenewald dink sy voornaam was Nico, maar hy onthou nie sy van nie) het baie gespog oor hoe goed hy pale toe kan skop.

“In ’n Carltonbeker-wedstryd speel ek vleuel en ek kry ’n geleentheid om los deur te hardloop naby die regterhoek en om te hardloop en onder die pale te gaan druk, maar ek hardloop by die pale verby en gaan druk in die linkerhoek.

“Toe raas almal met my. Ek sê toe ek toets maar net of die losskakel regtig so goed kan skop soos hy sê hy kan!” verduidelik Groenewald sy bisar optrede.

Hy het in die meeste posisies in die agterlyn vir verskeie klubspanne in Pretoria gespeel en was al Noord-Transvaal-o.20 se hulpafrigter toe hy in 1987 vir Pretoria teen die Fezelas gespeel het.

Charl O’Neill was daardie jaar Noord-Transvaal-o.20 se skrumskakel en ou Charl dog hy maak ’n grappie, hy hou vir “coach Blikkies” aan sy trui terug. Tot sy skok swaai Blikkies net daar om en slaan hom ’n blouoog!

So het Groenewald, wat sy bynaam Blikkies (“ek weet nie eintlik waarom ek so genoem is nie”) gekry het toe hy in die Hoër Landbouskool Morgenzon was, aanhou rugby speel tot hy amper 50 jaar oud was.

Wanneer hy ’n swak pass na my geslinger en ek hom skeef aangekyk het, het hy net gesê hy berei my maar net voor vir die dag wanneer ek régtig saam met ’n k*k skrummie moet speel!
Sy eerste tree as afrigter het hy egter al in 1974 gegee en vandag kan hy sê dat hy spanne soos die Blou Bulle, die Oostelike Provinsie, die Griffons en die Pumas plaaslik help afrig het.

Internasionaal het hy Rusland, Pole, Botswana en Zimbabwe afgerig.

Hy het afrigtingskursusse in Amerika, Argentinië, België, Botswana, Swaziland en Zambië aangebied.

Groenewald het ook al 12 afrigtingshandleidings oor verskeie aspekte van die spel geskryf.

“Die lekkerste plek waar ek al afgerig het, was in Hawaii, maar ek sal liewer nie meer daaroor vertel nie,” sê Groenewald geheimsinnig en met ’n uiters stoute laggie.

Blikkies Groenewald was die afrigter van Tuks toe hulle in 2010 die Carltonbeker gewen het.

Op ’n ernstiger noot noem hy dat dit ’n groot “belewenis” was om in Rusland en Pole af te rig.

“Ek speel op ’n keer met die Russe teen Georgië en my linkervleuel kry ’n hewige shot op sy regteroog, wat toe kwaai opswel. Maar hy wil nie afkom toe ek hom wil vervang nie, hy sê net ek moet hom oorskuif regtervleuel toe sodat hy die spel beter met sy gesonde oog kan volg!” vertel Groenewald.

Groenewald wag in Pretoria vir die reisbeperkings, wat as gevolg van die Covid-19-pandemie ingestel is, om te verslap, want hy moet een van die dae weer aanmeld by die Universiteit van Oklahoma in Amerika, waar hy deesdae die hoofafrigter is.

Voor hy groet, vertel hy eers dat hy darem nie die enigste ou is wat sy spanmaats se senuwees, en geduld, in sy speeldae getoets het nie.

“Wynie Strydom (die Bulle se eertydse spanbestuurder) en ek het baie saam gespeel, hy was skrummie en ek losskakel. Wanneer hy ’n swak pass na my geslinger en ek hom skeef aangekyk het, het hy net gesê hy berei my maar net voor vir die dag wanneer ek régtig saam met ’n k*k skrummie moet speel.



Location

null

Comments --

Loading...